Ruben2

Walvis se sterk Ruben in oefenlopie vir Londen

Written by PURE on Feb 13 2012 in General,News tagged
DIE kragopteller Ruben Soroseb en sy bestuurder Michael Hamukwaya sal dié week die Nasionale Paralimpiese Komitee van Namibië (NPC) by die Maleisiese Ope kragoptelkampioenskap verteenwoordig.

Die kompetisie is die tweede laaste kwalifiserende geleentheid vir die Paralimpiese Spele in Londen later vanjaar en sportmanne en -vroue van 15 lande word verwag.

Soroseb het as ’n elite kragopteller reeds vir Londen gekwalifiseer tydens ’n kampioenskap wat in Oktober 2011 in Dubai gehou is. Ruben sal die komende byeenkoms as voorbereiding vir die Paralimpiese Spele gebruik, asook om sy gradering op die wêreldranglys te verbeter waar hy reeds in die top 10 mans in die 100 kg kategorie is. Sy persoonlike beste vertoning in die bankstoot (“bench press”) is 210 kg. Soroseb is een van die medaljekandidate vir die Namibiese Paralimpiese span, soos hy reeds by vorige geleenthede met deelname in die buiteland bewys het.

“My verwagting is om op die peil te verbeter wat ek in Dubai bereik het, sodat ek kan weet waar ek staan en hoe ek my oefenprogram behoort aan te pas wanneer ek weer by die huis is,” het Soroseb voor sy vertrek gesê.

Namibië mik om in Augustus ’n sterk span na die Paralimpiese Spele te stuur en die mikpunt is om beter te vaar as vier jaar tevore toe die span vanuit Beijing met een bronsmedalje (Reggie Benade, in diskusgooi vir serebraal gestremdes) teruggekeer het.

Tot dusver het ses Namibiërs vir die reis na Londen gekwalifiseer, naamlik in atletiek en in kragoptel. Vier jaar gelede was Benade die enigste Namibiër in Beijing.

Soroseb het sy dank teenoor die Nasionale Paralimpiese Komitee van Namibië uitgespreek vir hul geloof in hom wat hom die kans gebied het om aan die kampioenskap deel te neem, asook Will’s Gym op sy tuisdorp Walvisbaai en Pure Nutrition Technology wat hom met voedselaanvullings bystaan.

« Go Back